Description
Die Woord en Getuienis Bybel is gebaseer op die 1933 vertaling en bevat die Hebreeuse Name naamlik: YaHWeH en Y'shua. Dit het nie enige buite bybelse boeke in nie en het net die 66 boeke soos die 1933 vertaling. Plek name is ook verander soos byvoorbeeld Egipte = Mietsrayiem
Inleidende Opmerkings
Hierdie bundel is ’n poging om ’n Afrikaanse Vertaling van die Skrif daar te stel wat so ver as moontlik voldoen aan die vereiste wat in Devariem (Deuteronomium) 4:2; 12:32; Mieshleh (Spreuke) 30:6 en Openbaring 22:18-19 neergelê word. Hierdie vereiste bepaal dat daar niks by die woorde en opdragte van die Almagtige bygevoeg of daarvan weggelaat mag word nie. Alhoewel meeste erkende vertalings van die Skrif groot erns met hierdie vereiste maak, is daar na ons wete niks in Afrikaans beskikbaar wat volledig – ook wat betref die gebruik van eiename en veral die Name van die Vader en die Seun – aan hierdie vereiste uitdrukking gee nie. Dit is ons bede dat die bundel, Woord en Getuienis, hierdie leemte salvul.
Waarom noem ons die bundel Woord en Getuienis en nie “Die Bybel” of “Die Skrif” soos ander vertalings van die geopenbaarde Skrifte nie? Die feite is dat daar nêrens in die geopenbaarde Skrifte enige naam aangedui word wat as versamelnaam vir beide Voor-Messiaanse en Na-Messiaanse Skrifte gebruik is nie. Dit is algemeen bekend dat die “Skrif” of “Bybel”, bestaande uit 66 boeke, waarvan 39 voor die koms van die Messias tot stand gekom het en 27 na die koms van die Messias, eers teen ongeveer die vyfde eeu na Messias as sodanig erken is. In gevalle waar die Na-Messiaanse boeke en briewe na “die Skrif” of “die Skrifte” of “die Geskrifte” verwys, is dit slegs ’n verwysing na die Voor-Messiaanse Skrifte – die enigste van die uiteindelike somtotaal van geskrifte wat op daardie vroeë stadium in geskrewe vorm beskikbaar was.
Die benaming Woord en Getuienis is gebaseer op die manier waarop daar in die Voor-Messiaanse boek, YeshaYahu (Jesaja), en die Na-Messiaanse boek, Openbaring, verwys word na die woorde van die Almagtige, soos Hy dit deur sy boodskappers (en sy Seun) aan sy verbondsvolk bekendgemaak het. In YeshaYahu / Jesaja 8:16 staan daar: “Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge.” In aansluiting hierby kom die oproep in vers 20: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie praat ooreenkomstig hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen daglig het nie.” Opvallend is die gebruik van “wet” en “getuienis” in beide hierdie twee verse in YeshaYahu (Jesaja), hoofstuk 8.
In die Na-Messiaanse boek van Openbaring kom dieselfde kombinasie van “wet” en “getuienis” of “woord” en “getuienis” nie minder nie as sewe keer voor – vgl. 1:2; 1:9; 6:9; 12:17; 14:12; 15:2-3 en 20:4. Hier kom dit duidelik na vore dat die “wet” of “woord” van Elohiem dui op die Voor-Messiaanse Skrifte, terwyl die “getuienis” dui op die Getuienis van (en oor) die Messias. Openbaring 20:4 kan as voorbeeld gebruik word: “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Y’shua en oor die woord van Elohiem...en hulle het herleef en as konings geregeer saam met Messias die duisend jaar lank.”
Behalwe die herstel van die Name van die Vader en die Seun, het ons met hierdie vertaling ook gepoog om alle eiename (name van persone, volkere, berge, riviere en plekke) so na as moontlik aan die oorspronklike eiename te herstel. Hierdie name sal vir die meeste lesers vreemd op die oor val, maar sal hopelik daartoe bydra dat tradisie-gebaseerde veranderinge wat met meeste ander vertalings ingesluip het, uit die weg geruim word. Om verwarring te probeer voorkom wat met die Afrikaanse
uitspraak te make het, het ons die volgende algemene riglyn gebruik by die transliterasie van eiename:
In alle eiename moet “Y” as “j” (soos in Jasper) uitgespreek word en nie as “j” (soos in James) nie; “Gh” moet as “gh” (soos in Gary) uitgespreek word en nie as “g” (soos in Gert) nie; “Sh” moet as “sj” (soos in Shaun) uitgespreek word en nie as “s” (soos in Sara) nie; Ts” moet as “ts” (soos in Tsaar) uitgespreek word en nie as “s” (soos in Sarie) nie; “Z” moet as “z” (soos in Zoeloe) uitgespreek word en nie as “s” (soos in Sedom) nie; “G” moet as “g” (soos in Griet) uitgespreek word en nie as “gh” of “h” nie; “V” moet as “w” (soos in Venda) uitgespreek word en nie “v” (soos in Venter) nie; “W” moet as “wh” (soos in West) uitgespreek word en nie “w” (soos in Willie) nie.
Waar Hebreeuse eiename ’n sg. “keelklank-letter” in die middel van die woord bevat, wat nie hoorbaar uitgespreek kan word nie, het ons ’n “ ´ ” teken gebruik om aan te dui dat die letters aan weerskante nie ’n ononderbroke eenheid vorm nie. “Kenaán” moet dus as “Kena-An” uitgespreek word en nie as “Kanaan” nie.
Met die volgorde en indeling van die boeke van die Voor-Messiaanse geskrifte (of Tanak) is daar gepoog om enersyds die drieledige onderskeid tussen Torah, Profete (of Neviíem, bestaande uit Vroeëre Profete, Latere Profete en Kleiner Profete) en Geskrifte (of Ketuviem) te handhaaf, maar andersyds so na as moontlik te bly aan die volgorde soos dit aan meeste lesers bekend is. Omdat die Na-Messiaanse boeke ’n verskeidenheid van genres (soos evangelies, briewe en openbaringsgeskrifte) verteenwoordig, word daar na hierdie versameling van boeke kortweg as Na-Messiaanse Skrifte verwys, wat nie verwar moet word nie met die Geskrifte (of Ketuviem) wat die derde deel van die Voor-Messiaanse boeke (of Tanak) verteenwoordig. Die vers- en hoofstuknumering van Woord en Getuienis stem in hoofsaak ooreen met die numering wat in meeste Bybels aangetref word, maar in sommige gevalle, waar daar numeringsverskille in sommige van die brondokumente voorkom, word ’n patroon in hierdie bundel gevolg waarvolgens die alternatiewe numering in hakies geplaas word.
Die Naam van die Vader, wat in die oorspronklike Hebreeuse teks met die letters YHWH (bekend as die Tetragrammaton) weergegee word, word deurgaans met “Yahweh” getranslitereer. Ons verkies die uitspraak “Yahweh” bo “Jehovah”, omdat daar geen “j” klank (soos in Jack) in Hebreeus bestaan nie en omdat die klinker-kombinasie van e-o-a in “Jehovah” ’n Masoretiese inisiatief van ongeveer 500 na Messias was, in ’n poging om die werklike Naam van die Vader te verberg. Ons verkies ook die uitspraak “Yahweh” (“w” uitgespreek as “wh”, soos in “where”) bo “Yahveh” (“v” uitgespreek as “w”, soos in “werk”), omdat laasgenoemde uitspraak gebaseer is op ’n relatief onlangse tendens in Hebreeus om die letter “waw” (wat soms ’n “wh” en soms ’n “oe” kan wees) soos die letter “bet” (wat soms ’n “b” en soms ’n “w” kan wees) uit te spreek. Verder verkies ons “Yahweh” bo “Yahuweh” of “Yahueh” of “Yahuah”, want daar is goed-gedokumenteerde historiese bewyse daarvoor dat die klemtoon in die uitspraak van Naam van die Vader in die laaste deel van die woord lê en dat hierdie laaste deel ’n “ê” klank het (soos in lê) en nie ’n “a” klank (soos in “pa”) of ’n “e” klank (soos in “te”) nie. Die “W” van die Tetragrammaton, wat tussen die “a” klank in die eerste deel van die woord en die “ê” klank in die laaste deel van die woord staan, verkry op hierdie manier byna vanself ’n “oe” klank en ’n mens kan verstaan waarom hierdie letter in die vroegste tye beide as “wh” en as “oe” uitgespreek is.
Dit is vandag redelik algemeen bekend dat die Messias se Naam nooit “Jesus” was nie en dat hierdie vorm, wat oor eeue heen wêreldwyd inslag gevind het, eintlik niks meer was nie as ‘n taamlik onakkurate, ver-Grieksing van die Naam van die Seun. Die feite is dat die Messias ’n gebore Yiesraéliet was, Yehudiese ouers gehad het en tot die stam van Yehudah gereken is. Die boodskapper van Yahweh wat die Naam van die Messias aan sy aardse ouers bekend gemaak het, het die keuse van hierdie betrokke Naam gemotiveer deur te sê dat dit Hy is wat sy volk van hulle sondes sal verlos (vgl. Matt. 1:21). Hierdie uitspraak sluit aan by die Voor-Messiaanse boodskap dat Yahweh die een is wat sy volk van hulle sondes sal verlos (vgl. YeshaYahu / Jesaja 44:1; 47:4; 48:17; 49:7; 54:5; 59:20; 63:16; ens). Dit blyk dus dat die ware betekenis van die Messias se Naam iets is soos: “Yahweh is verlossing”), maar so ‘n betekenis word geensins deur die Griekse “Iêsous” of die Afrikaanse “Jesus” weerspieël nie en ons kan redelik seker wees dat geeneen van sy tydgenote Hom ooit so genoem het nie. Handelinge 26:14-15 toon duidelik aan dat die Messias self sy Naam in die Ievritiese (Hebreeuse) taal aan Shaúl (Paulus) bekend gemaak het. Hierdie Naam word egter nie in die Griekse teks weergegee nie – enersyds omdat die Griekse teks eers teen ongeveer 300 n. M. tot stand gekom het en deur baie faktore beïnvloed is en andersyds omdat die Griekse taal sekere Hebreeuse woorde eenvoudig nie korrek kan weergee nie.
Deur na die samestelling van die Griekse vorm “Iêsous” te kyk, lyk dit asof die Messias se Naam as “Yeshua” uitgespreek is. Die woord “Yeshua” kan bloot “verlossing” beteken of dit kan ‘n soort afkorting (of noemnaam) vir die langer vorm “Yehoshua” of “Yahushua” wees, wat beteken “Yahweh is verlossing”. Ons weet dat die opvolger van Mosheh (Moses) wat allerweë as “Joshua” bekend staan, soms “Yehoshua” of “Yahushua” genoem is (sien Deut 34:9 en Joshua 1:1), maar soms ook “Yeshua” (sien Nehemia 8:17). In die Na-Messiaanse Skrifte (Nuwe Testament) word daar twee maal na hierdie selfde persoon, Joshua, verwys deur presies dieselfde Griekse woord te gebruik as wat vir die Naam van die Messias gebruik is, naamlik “Iêsous” (sien Hand 7:45 en Heb 4:8). Teen hierdie agtergrond blyk dit dat, alhoewel die aanspreekvorm “Yeshua” na alle waarskynlikheid deur die Messias se tydgenote gebruik is, sy Naam in werklikheid “Yehoshua” of “Yahushua” moet wees.
In die lig daarvan dat die antieke Hebreeuse teks nie klinkers bevat het nie, en daar boonop nie ‘n Hebreeuse teks van die oorspronklike Na-Messiaanse Skrifte beskikbaar is nie, is dit baie moeilik om met absolute sekerheid te weet hoe ‘n naam soos hierdie in die vroegste tye uitgespreek is. Die vorm “Yahshua” is ook taamlik algemeen bekend en was die voorkeur uitspraak vir die Naam van die Messias in vorige uitgawes van Woord en Getuienis, maar is egter nie ‘n volledige refleksie van al die letters wat in die oudste Hebreeuse vorm voorgekom het nie. In ‘n poging om die Naam van die Messias so korrek as moontlik weer te gee, word die vorm “Y’shua” in hierdie uitgawe gebruik. Daarmee probeer ons uitdrukking gee aan drie faktore in verband met hierdie Naam wat na ons mening in berekening gebring behoort te word: (1) Die Naam “Yeshua” was ‘n bekende naam in die tyd van die Messias en is soms gebruik – selfs in gevalle waar iemand se naam in werklikheid “Yehoshua” of “Yahushua” was; (2) Alhoewel daar nie volkome sekerheid is oor presies hoe die langer (en ouer) vorm van die naam uitgespreek is nie, ken en respekteer ons die betekenis daarvan ten volle: “Yahweh is verlossing” en (3) Deur
die Naam uit te spreek as “Y’shua”, eerder as “Jesus”, probeer ons om uitdrukking te gee aan hierdie besonderse betekenis van die Messias se Naam.
Die Griekse teks van die Na-Messiaanse Skrifte het geen poging aangewend om die Naam van die Vader (Yahweh), wat sonder enige twyfel deur die Messias en sy volgelinge gebruik is, te translitereer nie. Hierdie teks “vertaal” eenvoudig die Vader se Naam as “kurios” (die Griekse vertaling van die Hebreeuse “adonai”, wat “meester” of “eienaar” beteken) of as “theos” (die Griekse vertaling van die Hebreeuse “elohiem” of “eloha”, wat “magtige een” beteken). Dit is duidelik dat beide hierdie twee woorde op vele plekke in die Na-Messiaanse Skrifte eintlik as plaasvervangers vir “Yahweh” gebruik word. Daar is egter geen manier om bo alle twyfel te weet in watter gevalle “theos” werklik ’n vertaling (of ekwivalent) van “Elohiem” is en in watter gevalle dit ’n plaasvervanger van “Yahweh” is nie. In die lig hiervan word “theos” in hierdie bundel deurgaans met “Elohiem” weergegee, behalwe waar dit deel vorm van ’n aanhaling uit Voor-Messiaanse Skrifte waarin die Naam “Yahweh” duidelik voorkom.
Daar is gepoog om, beide wat die Voor-Messiaanse en Na-Messiaanse Skrifte betref, ’n vertaling weer te gee wat rekening hou met die jongste en mees betroubare navorsing op die terrein van Skrifvertaling. In die geval van tekste waarvoor daar meer as een teks variasies bestaan, is die keuse van watter manuskrip om as bron te gebruik, bepaal deur faktore wat met die konteks sowel as die breë konsensus van die moderne tekskritiek te make het. Daar is ’n doelbewuste poging met hierdie bundel aangewend om die vertaling so ver as moontlik van enige vooropgesette teologiese idees of dogmatiese formules te “bevry”. Die enigste manier om dit met ’n vertaling reg te kry, is om die vertaalde teks so letterlik en so objektief as moontlik weer te gee en ons glo dat Woord en Getuienis tot ’n baie groot mate aan hierdie vereiste voldoen.
Hierdie vertaling is in die eerste plek gebaseer op die mees oorspronklike (Hebreeuse, Aramese en Griekse) grondtekste beskikbaar, maar daar is tot ’n baie groot mate gesteun op bestaande vertalings soos die Afrikaanse Vertaling van 1933, die “King James” Vertaling van 1769 en die vertaling van “The Scriptures” van 1998. Ons wil langs hierdie weg erkenning verleen en ons dankbaarheid betuig vir die werk van onskatbare waarde wat deur die vertalers van hierdie (en ander) vertalings gedoen is. Dit is ons gebed dat WOORD EN GETUIENIS daartoe sal bydra dat Afrikaanssprekende gelowiges wie se erns dit is om hulle te verdiep in die onvervalste melk van die Woord (1 Kefa 2:2 / 1 Petrus 2:2), in hulle geloof opgebou en versterk sal word.
Aram Nahariem (Mesopotamië)
Arav (Arabië)
Ashur (Assirië)
Azzah (Gasa)
Bavel (Babel)
Bet-Anyah (Betanië)
Bet-Paghai (Betfage)
Bet-Tsaidah (Betsaida)
Getiete (Hetiete)
Gewiete (Hewiete)
Ghaliel (Galilea)
Ghat-Shemaniem (Getsemane)
Hodu (Indië)
Ievriet / Ievriem (Hebreër)
Kasdiem (Chaldeërs)
Kefar-Nagum (Kapernaüm)
Kenaán (Kanaän)
Kush (Etiopië)
Miedyan (Midian)
Mietsrayiem (Egipte)
Moáviete (Moabiete)
Peleshet (Filistea)
Pelieshtyne (Filistyne)
Perat (Eufraat)
Periziete (Feresiete)
Perushiem (Fariseërs)
Put (Libië)
Rav (Rabbi)
Sheloag (Siloam)
Shomeron (Samaria)
Tsaddukiem (Sadduseërs)
Tsiedon (Sidon)
Tsiedoniërs (Sidoniërs)
Tsor (Tirus)
Tsur (Tirus)
Tsuriërs (Tiriërs)
Yarden (Jordaan)
Yerushalayiem (Jerusalem)
Yehudiem (Jode)
Yevusiete (Jebusiete)
Yiesraél (Israel)
Name van Nasies en Lande en ander tipies Hebreeuse Benaminge
Ter wille van makliker herkenning, gee ons hier ’n alfabetiese lys van benaminge wat deurgaans in hierdie bundel gebruik word. Hierdie woorde is in ooreenstemming met die benaminge wat in die oorspronklike tale voorkom. Die meer bekende gebruiksname word hieronder in hakies weergegee. Name van persone en ander benaminge wat gereeld in ’n spesifieke boek gebruik word en wat moeilik mag wees om te herken, word aan die begin van elke afsonderlike boek aangedui.
Johanna Carolina Wilke –
Good
Leon –
Excellent - Leon du Toit October 11 2023
Gideon Joubert du Rand –
Wil graag Woord en Getuienis Bybel bestel.